top of page

Onderhoud met Jannic Zietsman oor sy 20 Jaar diens by Lionel's Vet

Jannic Zietsman

Ons gesels met Jannic, streeksbestuurder van ons suidelike verkoopspan, oor sy paadjie by Lionel's die afgelope 20 jaar.


Jannic, jy is nou 20 jaar werksaam by Lionel's en dit is verseker 'n groot mylpaal! Vertel ons waar het jou reis begin en hoe het jy by Lionel's uitgekom?


"Ag, dit is eintlik ’n interessante pad gewees. Ek het Sportbestuur en Bemarking gaan swot, maar ná my graad was ek nog nie heeltemal seker wat ek wil doen nie. Daar was ’n kans om by SA Rugby aan te bly, ek het as student op hulle komitee gedien, maar ek het dit verby laat gaan. Hoërskool Nico Malan het my genader en ’n pos aangebied as sportorganiseerder, maar omdat dit nie ’n voltydse pos was nie, moes ek ook ‘n bietjie klas gee. Ek was skaars ’n paar maande daar toe Oom Lionel Stephenson my bel.


Oom Lionel het my naam gekry deur ’n vriend van hom, wat toevallig ook my beste vriend se Pa is, en hy vra of ek nie sou belangstel om ‘n veldbemarker in die Tsitsikamma-area te word nie. Ek het eers gedink ek weet nie of ek regtig ook in die landbou wil wees nie, veral omdat my hele familie reeds in een maatskappy betrokke was. Nog ’n Zietsman daar sou dalk bietjie te veel wees!


Maar toe nooi Oom Lionel my vir ’n onderhoud. Ek het vir hom gesê gee my net ’n week om te besluit. Intussen het ek met die hoofaankoper van die Humansdorp Koöperasie gesels, en hy het gesê ek moet dit vat; hy sal my ook ondersteun. Dit was toe vir my die teken, en so het ek by Lionel’s begin."


Hoekom het jy in hierdie bedryf begin werk en wat geniet jy daarvan?


"Weet jy, die landboubedryf is nie maklik nie, dit is vol uitdagings, maar dit is ongelooflik belonend. Vir my is die lekkerste deel as jy by ’n boer gaan sit, hy vertel jou van sy probleme, en jy kan hom raad gee of ’n plan voorstel wat regtig werk. Daai gevoel dat jy iemand se boerdery help beter maak, dit is goud werd.


By Lionel’s kry ons ook kans om met ’n wye reeks produkte te werk. Jy leer só baie oor verskillende aspekte van boerdery, en dit hou die werk interessant. Daarmee saam bou jy ook vriendskappe en kontakte wat regtig vir jou iets beteken, mense wat jy kan bel as jy raad soek of sommer net wil gesels oor ’n uitdaging."


As jy moet dink aan die volgende 10 jaar wat voorlê, wat maak jou opgewonde daaroor?


"Ek is baie nuuskierig en opgewonde oor waarheen die Suid-Afrikaanse landbou oppad is. Ek glo ons boere gaan nog meer wys watse groot rol hulle in die wêreld kan speel. Dit is vir my lekker om te weet Lionel’s sal, soos altyd, saam met hulle groei.


Daar is soveel nuwe produkte en oplossings wat ons nog kan bring, en met hoe klein die wêreld deesdae geraak het, is die moontlikhede eintlik eindeloos. Ek kan nie wag om te sien waarmee ons vorendag kom om ons kliënte se boerderye nóg sterker en beter te maak nie."



Comments


bottom of page